Michael Jackson

Vanoggend kry ek ‘n oproep … “Het jy gehoor Michael Jackson is dood?”

Ek dog eers dit is een van daardie grappies … “Het jy gehoor van die ou wat …” en ek wag in spanning vir die res van die Michael Jackson grappie. So in die gesels spring ek op Google (my precious) en ‘n lys van berigte spring op.  Ja dit is so, Michael Jackson has left the building.  En ek besef weereens hoe vinnig tyd verbyvlieg, want dit voel soos gister toe ek in my woonstel saam met my vriende al die Jackson moves probeer het.  Ons het tevergeefs agteruit probeer sweef oor die mat, in die rondte gedraai en ons heupe gewikkel… die rooiwyn het ons meesters gemaak.

En nou jarrrrre later dink ek hulle sal die mental police bel as iemand sien ek probeer sulke moves uithaal.  Ek dink ek sal lyk soos iemand wat verstik aan ‘n stukkie brood en mal van benoudheid probeer om die heimlich manoeuvre op myself uit te haal.  Nee, ek wil nie eens daaraan dink nie.

Ek kyk na Michael se gesig wat oor die jare so verskriklik verander het.  Ek dink aan die hoeveel emails wat ek al daaroor gekry het.  Hoe die media vol was van sy misvormde gesig, sy weird en verwronge hunkering na aandag, sy obsessie met staatskos, maar dan dink ek ook aan sy musiek … Off the Wall, Thriller, Bad, Dangerous, History, Blood on the Dance Floor, Invincible en al sy ander Collection Albums en ek kyk verby die maskers en onthou die ongelooflike musiek.  Want dit is, was en sal altyd wees.  Michael sal onthou word saam met Elvis, John Lennon, Frank Sinatra, Freddie Mercury, Nat King Cole, Barry White, Luther Vandross, Johnny Cash, Janis Joplin, Ray Charles, Bob Marley, Luciano Pavarotti … om nie eens te praat van ons eie Miriam Makeba, Deon van der Walt, Gene Rockwell, Kobus du Plessis, Johannes Kerkorrel, Gé Korsten … en die lys is oneindig.

Vandag sê ek dankie vir musiek, vir die ongelooflike plesier wat dit verskaf, vir die golf wat ons wegvat na plekke waarvan niemand weet.  Dit move ons, dit gee ons hoop, dit herinner ons aan die verlede, dit inspireer ons, dit bring ons nader aan mekaar.

En ek sê dankie vir tyd … ek wil elke oomblik wat ek het benut, ek wil elke sekonde laat tel.  Ek wil moments capture, want soos Jacky altyd vir ons gesê het … “time waits for no man” en ek wonder hoe vol my uurglasie al geloop het.

Comments are closed.