Eerste teug …

Het jy as kind ooit probeer kyk hoeveel lengtes jy onder water kon swem?  Of dit nou die klein opblaas ringswembadjie was of iewers in ‘n swembad by jou maats…. maak nie saak nie.  Kan jy onthou hoe jou kop wou bars, jou longe brand, jy iewers bly vasklou het aan die trofee dat jy nie die een sal wees wat eerste jou kop bo die water sal uitsteek – nie die een wat eerste die lug in jou longe opsuig, hygend oor die swembadrand hang en voel hoe jou lyf warm raak van die suurstof…

Ek kan dit onthou.  Die benoudheid, die eerste teug na lug….

In ons huis vertel ons mekaar gereeld hoe geseend ons is – baie liefde, lekker kos, ‘n warm bed, gesondheid, werk… sommer net hoe geseend ons is. Ons dweep nie, loop nie met die Bybel onder die arm en skreeu halleluja as ons aansit vir ‘n bord kos… maar bedoel in opregtheid as ons se ons is geseend. Iewers kyk iemand met sagtheid op ons neer.

‘n Vreemdeling vra so ‘n paar dae gelede vir my of ek nie verlore raak in die stad, die miernies hier om my en sonder om te huiwer kom die antwoord dat my skaal perfek balanseer.  Ek het ‘n maat wat my asem, my anker is.  Ek het ‘n dogter (my Bekkie) wat ek meer lief as wat sy ooit kan besef.  En my keel trek toe as ek net dink dat hulle ooit iets moet oorkom. My bors brand en ek snak na my asem.

Op 5 Junie 2007 stuur Adele vir my ‘n sms:

“Dankie dat ma 19 jaar terug geboorte aan my geskenk het en grootgemaak het asof ek die belangrikste en kosbaarste is… ek kon nie vir beter gevra het.”

Ek snak na my asem…

Comments are closed.